• Facebook - Black Circle
  • LinkedIn - Black Circle

Alternatiewe opsies vir matrikulante 

Published in Kuier Magazine, November 2014

Ann Werner, ’n industriële organisatoriese sielkundige en loopbaan konsultant, verduidelik dat elke individu se situasie anders is. “As jy nie seker is oor wat jy wil studeer nie, is dit beter om tyd te neem om jouself te leer ken sodat jy seker kan wees. Maar hoe lank jy ookal vat, onthou dat jy steeds met ’n plan moet werk, want as jy nie beplan nie, kan die tyd jou inhaal en voor jy weet, is jou vriende reeds ver gevorderd en voel jy agtergelaat.” 


Sy verduidelik dat ’n gap year daaroor gaan om jouself beter te leer ken. Jy moet eers deeglike navorsing doen voor jy ’n besluit maak, want dit is ’n keuse vir ’n leeftyd. “Tussen die ouderdom van 21 en 65 jaar, werk jy vir ongeveer 11 000 dae, so jy moet absoluut doodseker wees dat dit regtig die werk is wat jy wil doen. Dit moet die moeite werd vir jou wees.” 


Ann, wat haar eie praktyk Career Creations in Constantia in Kaapstad bedryf, stel voor dat jy ook ’n aanlegtoets kan doen wat jou ’n beter insig oor jou loopbaankeuse sal gee. Jy kan ook met ’n loopbaan consultant of sielkundige gaan praat. 


“Hulle doel is nie om vir jou voor te skryf nie, maar hulle gebruik jou agtergrond, jou persoonlikheid en sterkpunte om saam met jou ’n geskikte keuse te maak. Die finale besluit lê by jou as persoon. 


Ann gee die volgende wenke:

  • As jy nie seker is nie, doen eers ’n kort kursus in die veld(e) waarin jy belangstel. Hier sal jy dan ’n idee kry of jou vaardighede en persoonlikheid geskik is vir daardie veld. 

  • Jy kan ook ’n internskap doen by ’n maatskappy in die bedryf waarin jy belangstel. Dit sal jou ’n idee van die werk in die praktyk gee, die werksure, salaris ens. Baie beroepe lyk beter op die televisie as wat dit in die werklikheid is. Dié ervaring sal jou ook daardie blootstelling gee. 

  • Jy kan ook vrywilligerwerk doen of by ’n nie-regeringsorganisasie aansluit. Dié tipe werk sal jou ook kan help bepaal wat jou doel in die lewe is. Dalk is dit om ander mense op so ’n manier te help. 

  • Jy kan ook oorsee gaan werk om ’n idee van die werkende wêreld te kry. Jy sal hier met jou salaris werk, ’n begroting moet opstel en op jou eie voete moet staan. 

  • Daar is baie druk op ’n matrikulant, so as jy wel iets gaan studeer net om saam met jou vriende te wees en jy besef drie maande na die tyd dis nie vir jou, skop op. Dit is nie die einde van die wêreld nie. Neem eerder die tyd om jouself te leer ken as om vir die res van die jaar met jou kop in die sand te loop. 

  • Baie universiteite en tegnikons bied loopbaan uitstallings en ope dae aan. Hier kan jy brosjures kry en met kenners oor hulle veld gaan praat om jou ook te help om ’n besluit te maak. Jy kan ook met die instansie se loopbaan raadgewer gaan praat as jy inligting oor wat ’n spesifieke kursus wil hê. 

  • Akademiese boeke en natuurlik ook die internet kan ’n groot bron vir jou navorsing wees. 


Ann haal ’n aanhaling van Joseph Campbell aan: “The privilege of a lifetime is being who you are.” 


“Dit beteken dat daar altyd mense gaan wees wat dinge beter as jy gaan doen, maar jy moet self kies wat die beste rigting vir jou lewe is.”